Engela Strydom se familie sê Becker hou hulle deurentyd op hoogte

Die familie van Engela Strydom sê hulle is rustiger oor die moordsaak van haar man Coenraad. Daar was vroeër kommer dat die saak herhaaldelik uitgestel word as gevolg van ‘n stukkende masjien wat veronderstel is om kruitreste aan Coenraad se hande te toets. Engela is op 4 November 2021 in Walvisbaai dood nadat sy in die kop geskiet is. Haar man het eers gesê sy het selfmoord gepleeg, maar die ondersoek dui op moord. Die hof het aanbeveel dat die masjinerie teen 31 Oktober vanjaar herstel word sodat die toetsuitslae beskikbaar is, maar dit is weer vertraag en uitgestel tot 11 Januarie. Engela se familie vrees dat die saak weens die herhaalde gesloer uitgegooi kan word. Engela se broer, Hugo Smit, sê kommissaris Nelius Becker, hoof van die forensiese eenheid by die Namibiese polisie hou hulle deurentyd op hoogte. Hy gesels met Kosmos 94.1 Nuus.