Elton John sê dit gaan goed na sy val in Frankryk
Die beroemde Britse sanger, Elton John, sê hy verkeer in goeie gesondheid nadat hy by sy huis in Frankryk geval en in die hospitaal beland het. Die 76-jarige is oornag vir waarneming gehou, maar sê alles is reg. Hy is ná ondersoeke uit die Prinses Grace-hospitaalsentrum in Monaco ontslaan, en is nou terug by die huis. John, sy man, David Furnish, en hul twee seuns het ná die einde van sy Farewell Yellow Brick Road-toer in Julie na hul villa in Nice teruggetrek.