Elf verdagtes vas oor stropery in Etosha

Die Namibiese omgewingsministerie het bevestig dat elf verdagtes in verband met die onlangse stropery van 12 swartrenosters in die Etosha Nasionale Park in hegtenis geneem is. Volgens die woordvoerder van die ministerie, Romeo Muyunda, is beslag ook op twee voertuie, vyf gewere, ammunisie, byle, messe en kontant van 50 000 Namibiese dollar gelê. Die elf verdagtes is in hegtenis geneem in streke aangrensend aan Etosha. Hulle is in aanhouding en hul verskeie sake kom voor in die landdroshowe van Tsumeb, Ondangwa en Okahao.