Efundja: Vlakke kom al nader aan 2011 se rekordvlakke

Die Namibiese Hidrologiese Diens het sy jongste opnames oor efundja-vlakke in die Noorde vir Vrydag bekend gemaak. Die diens sê dat watervlakke nader beweeg aan die syfers wat in 2011, die ergste efundja op rekord, gemeet is. Vlakke by Engela is tans bo ‘n meter en in 2011 het Engela die hoogste vlak vir daardie jaar bereik op 1,45 meter op 23 Maart daardie jaar. Op die oomblik is Shanalumono op 0,93 meter en op 28 Maart 2011 is die hoogste vlak op 1,48 meter aangeteken. Okatana het in 2011, ook op 28 Maart, 1,99 meter bereik en is tans op 0,68 meter. Die diens sê verder dat damvlakke nie vanjaar so goed vertoon nie. Tans is die totale vlakke vir die land op 70,8 persent vergeleke met 82,4 persent in dieselfde tydperk verlede jaar en 87,7 persent in 2021.