Eenhana se drinkwater sal op raak… N$100m nodig

Die dorpsraad van Eenhana in die Ohangwena-streek het 100 miljoen Namibiese dollar nodig vir ‘n water versuiweringsaanleg of, die dorp se drinkwater sal binne twee jaar op raak. Volgens die raad se bestuurder vir ekonomiese ontwikkeling, Ndawedwa Mwandingi het die dorp se bevolking baie vinnig gegroei en plaas tans druk op die beskikbare infrastruktuur. Watervoorsiening sal binnekort in ‘n krisis ontaard. Mwandingi sê die raad verkoop eiendom om inkomste te genereer maar dit is nie genoeg nie. Eenhana se begroting vir die huidige finansiële jaar is 82 miljoen dollar. Hy het aan nuusagentskappe gesê die raad is in gesprek met Europese agentskappe maar het ook ‘n beroep op die ministerie van stedelike ontwikkeling sowel as Stad Windhoek gedoen om hulle by te staan. Die ministerie se uitvoerende direkteur Daniel Nghidinwa sê hulle het verskeie navrae gehad vir befondsing regoor die land maar, daar is nie geld nie.