Een SA-burger dood in Indonesiese gevangenis

Een-en-veertig gevangenes is dood nadat ‘n brand Woensdagoggend vroeg in ‘n oorvol gedeelte van die Tangerang-gevangenis in Indonesië uitgebreek het. ‘n Suid-Afrikaner en ‘n Portugese burger tel onder die sterfgevalle. Yasonna Laoly, Indonesiese minister van Justisie en Menseregte, sê Tangerang se Blok C was oorvol. Die blok is gebou om 38 te huisves, maar ten tyde van die brand was daar 122 gevangenes. Brandbestryders het die brand geblus en slagoffers is uit die gebou ontruim. Die blok huisves gevangenes wat op dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem is. Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.