Duitsland betaal nie reparasies nie

Die Britse Guardian koerant berig dat die Duitse regering sê daar sal geen betaling vir reparasies wees wanneer hy binnekort amptelik aan Namibië om verskoning vra vir die 1904 tot 1908 volksmoord. Luidens die berigte sal Duitse owerhede addisionele bystand bied in veral infrastruktuur, gesondheid en opleiding in gebiede waar Nama en Ovaherero woon. Die fondse word nie as reparasies gedefinieer nie, maar eerder as ontwikkelingshulp, wat Duitsland reeds jare aan Namibië bied. Die ooreenkoms, wat luidens berigte deur die Namibiese regering en sy Duitse eweknie onderteken is, is nog nie plaaslik bekend nie. Die regering se gesant vir die onderhandelings, Dr Zed Ngavirue het onlangs aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die dokument moet eers aan die regering voorgelê word. Oorsese media berig dat die Duitse President Frank-Walter Steinmeier sal binnekort amptelik om verskoning vra in die Nasionale Vergadering.