DRK het nog nie die vis betaal nie

Die Demokratiese Republiek van die Kongo het nie die 30 September sperdatum vir die betaling van 27 300 metrieke ton gevriesde maasbanker gehaal nie. Die 85 miljoen Namibiese dollar se kwota is nie op die 9 September veiling verkoop nie. Plaaslike media berig dat die ministerie van finansies steeds nie betaling ontvang het nie maar, dat hulle in verbinding is met owerhede in die DRK. Die fondse moes teen tien-uur op 30 September in die staat se rekening inbetaal gewees het. Daar word kritiek uitgespreek teenoor die regering se geduld in die saak. Die Konfederasie van Namibiese Visvang-verenigings sê dieselfde reëls moet vir almal geld en dus moet die DRK gediskwalifiseer word.