Drie vermeende renosterstropers kry borg

Renostereienaars in Namibië is ontsteld dat drie vermeende renosterstropers op borgtog van N$5 000 elk in die Omaruru-landdroshof vrygelaat is. Herman Saba, Soini Veripi Erastus en Sakeus Indileni Erastus moet weer op 12 Augustus in die hof verskyn. Renostereienaars meen die misdaadsituasie sal nie verander as die regstelsel hulle in die steek laat nie. Hulle is van mening dat al die harde werk, tyd en geld verniet is, as vermeende renosterstropers op borgtog vrygelaat word en moontlik weer dieselfde misdaad pleeg. Jaco Muller van Help our Rhino Now Namibia sê aan Kosmos 94.1 Nuus hulle is geskok oor die borgtog en voorwaardes. Hy sê as vermeende stropers so maklik borgtog kry, gaan die oorlog teen stropery nooit gewen word nie.