Drie skuldig aan MH17-ramp

‘n Nederlandse hof het drie mans skuldig bevind en een vrygespreek op aanklagte dat hulle in 2014 die Maleisiese Lugdiens se vlug MH17 oor Oekraïne afgeskiet en die dood van 298 mense veroorsaak het. Die twee Russe en een Oekraïnse burger is ‘n lewenslange vonnis opgelê. Die regters het bevind dat dit ‘n beplande daad was, al het die drie mans voorgehou dat hulle beplan het om ‘n militêre vliegtuig af te skiet, en nie ‘n burgerlike vliegtuig nie. Al vier beskuldigdes was in 2014 nog vegters vir die pro-Russiese separatiste-beweging, die selfverklaarde volksrepubliek Donetsk. Die drie wat skuldig bevind is, is Igor Girkin, Sergey Dubinskiy en Leonid Kharchenko. Al drie is tans in Rusland. Oleg Pulatov, ‘n Rus en die enigste verdagte wat verdediging aangeteken het en in die hof was, is onskuldig bevind.