Drie groenskemas staan stil, regering het nie geld gegee nie…

Die Namibiese Landbou Besigheidsontwikkelings-agentskap, Agribusdev, sê drie van die groenskemas in die Noorde staan sedert Oktober verlede jaar stil as gevolg van ‘n gebrek aan fondse. Die skemas is Etunda, Shadikongoro en Ndonga Linena. Volgens Agribusdev het hul nie fondse van die ministerie ontvang vir somerverbouing nie, net 4 miljoen dollar vir wintergewasse. Blykbaar loop die skemas teen ‘n verlies. Volgens berigte het die ministerie 62 miljoen dollar in 2020 oorbetaal maar die mielies wat geplant is, is vir 13 miljoen dollar verkoop en die koringoes was blykbaar power. Dit volg na die landbouminister Calle Schlettwein se aankondiging dat die groenskemas aan die privaatsektor beskikbaar gestel sal word vir beleggings in voedselproduksie. Hy het in Dubai by die onlangse ekspo gepraat. Die kommentaar het hewige reaksie uitgelok van die president van die Namibiese Plaaslike Besigheidsvereniging, Erastus Shapumba. Hy sê die skemas moet deur Namibiërs bestuur word en slegs as hulle onsuksesvol is, kan buitelanders ingebring word.