Doodstraf van Christen-egpaar ter syde gestel

’n Hof in Pakistan het die doodsvonnis van ’n Christen-egpaar op ’n klag van godslastering omgekeer op grond van die afwesigheid van bewyse. Hulle is vrygespreek nadat hulle reeds sewe jaar in die dodeselle deurgebring het. ’n Laerhof het Shafqat Emmanuel, ’n wag by ’n fabriek en sy vrou, Shagufta Kausar, in 2014 ter dood veroordeel omdat hulle in ’n teksboodskap aan ’n plaaslike geestelike, Khalid Maqso, minagtende opmerkings oor die Moslem-heilige Mohammed gemaak het. Daar word berig dat minagting van die profeet Mohammed in dié oorwegend Moslem-land met die dood strafbaar is.