DNS-toetse kan moontlik Wasserfall moordsaak kelder

Daar is kommer oor die vertraging in DNS-toetse in die moordsaak van Shannon Wasserfall. Die saak sal weer op 16 Mei vanjaar voorkom maar, landdros Vicky Nicolaidis het gesê dit is die laaste uitstel. Sy het haar misnoeë uitgespreek oor die feit dat die DNS-uitslae na 17 maande na die verdagtes in hegtenis geneem is, nog nie gereed is nie. Die twee moordbeskuldigdes, Azaan Madisia en haar broer Steven Mulundu, het onskuldig gepleit op alle klagte teen hulle. Daar word aangevoer dat hulle Wasserfall in April 2020 vermoor het en haar liggaam in ‘n vlak graf net buite die kusdorp begrawe het. Die hoof van Nampol se forensiese eenheid, kommissaris Nelius Becker het voorheen aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig dat daar ‘n groot agterstand is in DNS-toetse met verskeie tekorte van reagense.