Dit was Kosmos wat die Russe uit die lug uit geskiet het!

Die anti-satellietwapentoets wat Rusland Maandag gedoen het om sy satelliet te verwoes en soveel boehaai gemaak het is steeds in die nuus. Navo het ook teenoor Rusland uitgevaar omdat die verwoesting van die satelliet ruimte-rommel veroorsaak het wat die ruimtevaarders in die internasionale ruimtestasie in gevaar kon stel. Die bemanning is deur Nasa beveel om in hulle ontsnapkapsules skuiling te soek. En die naam van die satelliet wat Rusland verwoes het? Kosmos, met ‘n ‘k’. Om presies te wees, Kosmos 1408. Die seinintelligensie-satelliet is deur die Sowjetunie bedryf. Dit is op 16 September 1982 in ‘n lae aarde-wentelbaan gelanseer, wat Kosmos 1378 vervang het.