Dis neusie verby vir gholfspeler(s)

‘n Gholfspeler het sy gholfmaat se neus in ‘n parkeerarea afgebyt na ‘n potjie gholf. Die 51-jarige Mark Curtis Wells van Biloxi, Mississippi, VSA het glo van die toneel weggejaag, maar homself later by ‘n polisiekantoor oorgegee. Die slagoffer is in die hospitaal opgeneem, maar sy neus is nog nie gevind nie. Volgens ooggetuies was Wells en sy gholfmaat heeldag haaks met mekaar oor hulle spel. Wells is in hegtenis geneem en in die Hancock Country-tronk gestop, maar binne ‘n uur vrygelaat nadat hy 10 persent van sy 50 000 Amerikaanse dollar borg betaal het. Hy kan tot sewe jaar tronkstraf kry indien hy skuldig bevind word.