Dippenaar se laaste kans om te verdedig teen eis

Die hoërhof regter Shafimana Ueitele verwag vandag dat Jandre Dippenaar redes moet verskaf hoekom sy verdediging in die saak waar Antonia Joschko hom vir skadevergoeding van 715 000 euro en 500 000 Namibiese dollar na die noodlottige motorongeluk van 29 Desember 2014, nie geskrap moet word nie. Volgens Ueitele se jongste bevel wat op 1 Februarie uitgereik is, moet Dippenaar ingevolge reël 53 sy saak kom stel. Volgens die reël kan ‘n verdediging geskrap word en nie toegelaat word as verdediging nie. Dippenaar het geen regsverteenwoordiging nie en regshulp weier om hom by te staan. Joschko se span weier op hul beurt om verdere uitstel te gee. Daar was ook verskeie male wat hy eenvoudig nie opgedaag het by die hof nie. Die regter se bevel maak melding daarvan en hy is beveel om vanoggend om half-nege teenwoordig te wees. Hy is met die bevel bedien, volgens die balju. Die saak spruit uit die ongeluk aan die kus waar ses mense oorlede is. Dippenaar word ook strafregtelik vervolg in die Swakopmund-streekshof, met onder andere, ses klagte van moorde teen hom.