Dippenaar bekom regslui ter elfder uur

Dit wil voorkom asof Jandre Dippenaar ter elfder uur regsverteenwoordiging bekom het in die siviele eis wat Antonia Joschko teen hom ingestel het. Volgens die bevel van regter Shafimana Ueitele is die saak tot 8 Maart uitgestel om nie net die verhoordatums te bepaal nie maar dat Dippenaar se prokureur, wat nog nie bekend is nie, op rekord kan kom as sy prokureur. Ueitele het Dippenaar net tot gister gegee om regslui aan te stel of hy sou sy verdediging volgens reël 53 geskrap het. Joschko dagvaar vir skadevergoeding van 715 000 euro en 500 000 Namibiese dollar na die noodlottige motorongeluk van 29 Desember 2014. Ses mense is dood, insluitend haar ouers en haar suster. Dippenaar word ook strafregtelik vervolg in die Swakopmund-streekshof, met onder andere, ses klagte van moord teen hom.