Die Beast sal kiekies beoordeel

Inskrywings stroom in vir Rugby Africa se eerste media- en fotografietoekennings en die paneel beoordelaars het die Wêreldbeker- en Springbok-legende, Tendai ‘Beast’ Mtawarira, nader gehark. ‘n Woordvoerder sê die 35-jarige Springbok, wat die derde meeste wedstryde vir die Bokke gespeel het, sluit aan by ‘n paneel huidige en oudspelers. Afrika-joernaliste en -fotograwe kan steeds hulle inskrywings stuur. Die kompetisie duur tot 17 Julie. As paneellid sal Tendai ‘n geleentheid kry om uit te vind hoe die spel in ander dele van die vasteland gespeel word.