Delta-variant wek kommer, 99,5% van alle gevalle

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die Delta-variant maak 99,5 persent van alle Covid-gevalle wêreldwyd uit en terwyl entstowwe steeds doeltreffend is teen ernstige infeksies, is wetenskaplikes waaksaam in die verband. Die jongste navorsing dui daarop dat Delta, wat die eerste keer in Desember verlede jaar in Indië bevestig is, twee keer meer aansteeklik is as vorige vorms van Covid en persone wat met die variant besmet is, 1 200 keer meer partikels van die virus dra in hulle neuse as die ander variante. Persone wat ingeënt is, verloor vinniger die hoeveelheid partikels so hulle is effe minder aansteeklik. Wetenskaplikes meen dat die volgende variante almal vanaf Delta afkomstig sal wees en die eerste een hiervan is AY.4.2. wat tans 10 persent van alle gevalle in die Verenigde Koninkryk uitmaak. Die variant is reeds in 42 ander lande geïdentifiseer.