Debat oor De Klerk se nalatenskap duur voort

Die debat oor Suid-Afrika se laaste apartheidsera-president, FW de Klerk, gaan steeds voort. Hy het gister in Kaapstad weens kanker gesterf. Die Desmond en Leah Tutu-nalatenskap-stigting sê De Klerk het vele kanse verbeur om met alle Suid-Afrikaners te versoen. Die Ahmed Kathrada-stigting se woordvoerder, Neshan Bolton, sê De Klerk het nie erkenning gegee aan die verwoesting wat apartheid onder miljoene Suid-Afrikaners gesaai het nie. Die Nelson Mandela-stigting sê geskiedenis sal De Klerk onthou vir sy insig om te besef apartheid was onregverdigbaar en die val daarvan onvermydelik.