DBN finansier N$8 miljoen vir 28 landelike jeug-ondernemings

Die Ontwikkelingsbank van Namibië het aangekondig dat die Bank 8 miljoen Namibiese dollar verskaf het om 28 landelike jeug-ondernemings te finansier. ‘n Tjek is aan die jeugministerie oorhandig om die 28 nuwe ondernemings aan gang te kry. Die bank se aanvanklike betrokkenheid het bestaan uit ondernemingsbestuur-opleiding vir 407 jongmense van 121 landelike jeug-ondernemings, ‘n oefening wat tegniese ondersteuning ter waarde van 1,2 miljoen dollar behels het. Die jeug is gehelp om potensiële sake-idees en geleenthede in hul kiesafdelings te identifiseer en sakeplanne daarvoor te ontwikkel. Die eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het bygevoeg die projek het ten doel om 1 210 nuwe permanente werksgeleenthede te skep.