DA: SASSA het geen planne vir die winter gereed nie

Die DA sê die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid het erken dat hy in die Wes-Kaap geen gebeurlikheidsplanne vir die winter gereed het nie. ‘n DA-lid in die wetgewer, Gillion Bosman, sê SASSA is die voorste agentskap in beheer van Suid-Afrika se weerloses. Daar is egter geen planne opgestel nie, al is dit reeds diep in die winter. Hy sê dit dwing die provinsie en munisipaliteite om hul maatskaplike ondersteuningsveldtogte te verskerp. Hy beklemtoon dat alle regeringsvlakke moet saamwerk om die winter se uitdagings te takel.