DA eis herstel van kragtoevoer in Lichtenburg
Die DA in Noordwes het sy regsverteenwoordiger opdrag gegee om dringende regstappe teen Eskom in te stel ná sy weiering om kragtoevoer na dele van Lichtenburg te herstel. Dit volg nadat Eskom geweier het om beskadigde infrastruktuur in die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit te herstel, weens die munisipaliteit se uitstaande skuld. Eskom eis eers ‘n betaling van 123 miljoen Suid-Afrikaanse rand. Die DA-leier in Noordwes, Leon Basson, sê hulle eis egter die onmiddellike herstel van krag aangesien inwoners al bykans 19 dae sonder betroubare krag moet klaarkom.