COP27: Afrika-regerings sal olie, gas ontgin vir sy mense

Afrika-lande moet toegelaat word om fossielbrandstofbronne te ontwikkel om hul mense uit armoede op te hef. Dit is die mening van Afrika-regerings by COP27 wat op die oomblik in Egipte aan die gang is. Hoofde van olie- en gasmaatskappye het die aanmerkings verwelkom. Met die oorlog in Oos-Europa en die gepaardgaande sanksies teen Russiese olie en gas, het selfs lande met bindende verpligtinge om na laekoolstof-energie oor te skakel, gevind dat hul prioriteite verskuif het, ten minste op kort termyn. Afrika-lande sien die potensiaal vir nuwe uitvoermarkte, sowel as ‘n kans om binnelandse brandstofarmoede te beëindig. Namibië se petroleumkommissaris Maggy Shino sê daar is baie olie- en gasmaatskappye teenwoordig by COP omdat Afrika ‘n boodskap wil stuur dat hy al sy energiebronne tot voordeel van sy mense gaan ontwikkel. Sy voeg by dat ryk lande versuim het om beloofde befondsing te lewer wat Afrika sal help om skoon energie uit te brei in plaas daarvan om fossielbrandstofbronne te ontgin.