Coenraad Strydom steeds agter tralies

Coenraad Strydom se saak is deur die Walvisbaai-landdros John Sindano tot 26 Januarie uitgestel. Strydom, 45, word aangekla van die moord op sy vrou Engela op 4 November in hul huis in Meersig op die kusdorp. Volgens die staat het hy sy 49-jarige vrou met ‘n 9mm in die kop geskiet. Engela is afgevoer na die hospitaal met medici onder die indruk dat sy selfmoord gepleeg het. Maar die staat sê sy is van agter af geskiet. Die wapen is ook gevind waar dit onder ‘n kussing in die huis versteek is. Strydom word nou deur Evert Gous verteenwoordig. Gous het aan plaaslike media gesê hulle sal ‘n borgaansoek bring, of op die 26ste of vroeër.