Chobe-skietdood: daar was geen gesamentlike ondersoek nie

Daar is twyfel of die Namibiese regering, in samewerking met owerhede van Botswana, ooit ‘n gesamentlike ondersoek na die dood van drie Namibiërs en hulle Zambiese neef uitgevoer het. Dit is die mening van die Namibian Lives Matter-beweging wat meen dat getuienis wat by die onlangse nadoodse ondersoek in Botswana gelewer is, bewys daarvan is dat so ondersoek nooit plaasgevind het nie. Eerstens, het nie die beweging, nog die Nchindo-familie, ooit toegang tot die verslag oor die ondersoek gekry nie. Die ondersoek is na bewering reeds in April vanjaar afgehandel. Tweedens, was verskeie Namibiese polisiebeamptes, wat betrokke was by die nadraai van die November 2020 skietdood van die vier, nie betrokke by enige ondersoek nie. Die beweging beweer ook dat die polisie geen bewysstukke kon kry of foto’s kon neem op die toneel nie. Die dood van die vier deur die Botswana-weermag het in ‘n diplomatieke herrie ontaard. Intussen het die buurland se minister van internasionale betrekkinge Lemogang Kwape verlede week gesê dat hy homself verbind tot ‘n oplossing.