Chinese skaapwagter atlete se held

‘n Chinese skaapwagter word as ‘n held beskou nadat hy die naweek ses atlete gered het wat in uiterste koue op ‘n berg vasgekeer was. Een-en-twintig deelnemers is dood in die wedloop oor 100-kilometer in die Gansu-streek in die noordweste van China. Die skaapwagter, Zhu Keming, was in ‘n grot waar hy gewoonlik kos en klere hou. Hy het die atlete se hulpgeroep gehoor waar hulle in ysige reën, stormsterk wind en hael vasgekeer was en hulle na die grot geneem. Zhu het later daarin geslaag om ‘n selfoonsein te kry en hulp te ontbied. Talle atlete was in die fratsstorm vasgekeer.