Chinese President beloof verdeling van rykdom

China se amptelike nuusagentskap berig president Xi Jinping het beloof om rykdom in die land te herverdeel in belang van maatskaplike regverdigheid. Hy het aan leiers van die regerende Chinese Kommunistiese Party gesê mense en ondernemings met hoë inkomstes moet aangemoedig word om meer aan die samelewing terug te gee. Xi het nie besonderhede gegee oor hoe dit bereik gaan word nie, maar belastings is blykbaar ‘n moontlikheid. Volgens Xi is gedeelde voorspoed noodsaaklik om die land in ‘n ten volle ontwikkelde, ryk en magtige nasie te verander.