China vies oor VSA sy ballon afskiet

China se ministerie van buitelandse sake het sy ontevredenheid uitgespreek nadat ‘n beweerde Chinese spioenasie-ballon langs die Amerikaanse kus afgeskiet is. Die Amerikaanse President, Joe Biden het vroeër toestemming gegee dat die ballon vernietig word sodra dit oor die see is sodat geen mense in gevaar gestel kan word nie. ‘n Militêre vliegtuig het die ballon langs die kus van Suid-Carolina afgeskiet. Die Pentagon glo die ballon is gebruik om sensitiewe inligting oor Amerika in te samel. China ontken egter dat die ballon vir spioenasie gebruik is, en sê dit was ‘n burgerlike ballon wat gebruik is om inligting oor die weer in te samel. Volgens China het die ballon per ongeluk in Amerikaanse lugruim beland. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken sou China dié naweek besoek het, maar het die besoek weens die diplomatieke geskil gekanselleer.