China verwerp NASA-aantygings dat hy die ‘maan wil oorvat’

China het aantygings deur die hoof van NASA, Bill Nelson, dat hy die maan wil oorneem, as snert verwerp. Nelson het in ‘n onderhoud in Duitsland gesê NASA moet baie bekommerd wees dat China op die maan land en sê: ‘Dis nou ons s’n en jy bly uit’. Nelson meen volgens berigte dat China die maan as deel van ‘n militêre program kan “oorneem”. Zhao Lijian, ’n woordvoerder by die Chinese ministerie van buitelandse sake, sê dit is nie die eerste keer wat die NASA-hoof onverantwoordelike uitlatings maak nie. China het sy ruimteprogram die afgelope dekade uitgebrei, met die verkenning van die maan as fokuspunt.