China Town-aktiviste verskyn weer vandag in Katutura-hof

Aktiviste Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma, saam met ses ander wat aangekla word in verband met betogings in Mei by China Town in Windhoek, sal vandag weer in die Windhoek-landdroshof in Katutura verskyn. Hul saak is Donderdag uitgestel nadat hul regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, aansoek gedoen het om die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956, waarvolgens die beskuldigdes aangekla word, te betwis. Hy het tydens pleitverrigtinge aangevoer dat die wet hul grondwetlike regte skend. Al die beskuldigdes het onskuldig gepleit op die aanklagte wat teen hulle gemaak is.