Cachalia bly verbind tot DA
Die voormalige nasionale woordvoerder van die DA oor Openbare Ondernemings, Ghaleb Cachalia, het sy onwrikbare toewyding aan die party bevestig, al is hy Donderdag uit die parlementêre leierskap verwyder weens sy opmerkings oor die konflik tussen Israel en Hamas. Hy het Israel beskuldig van dade van volksmoord teen die mense van Palestina. Die nasionale woordvoerder van die DA, Solly Malatsi, sê Cachalia se openbare uitspraak is strydig met die opdrag van die party om nie kommentaar te lewer oor die saak nie. Cachalia sê hy sal sy wetgewende pligte voorsit, en uit die agterbanke van die Parlement dien.