Buzz se baadjie verkoop vir US$2,8m

Die Apollo 11-ruimtevaarder Buzz Aldrin se vlugbaadjie, wat hy op die geskiedkundige sending na die maan in 1969 gedra het, is vir sowat 2,8 miljoen Amerikaanse dollar by Sotheby’s in New York verkoop. Die voorkant van die baadjie vertoon NASA en die Apollo 11-sending se embleme, wat effens onder Aldrin se naamplaatjie is. Die baadjie is gemaak van Beta-lap, ’n vuurvaste lap wat in NASA-ruimtepakke ingewerk is nadat drie Apollo 1-ruimtevaarders in ’n brand aan boord van hul ruimtetuig tydens ’n grondtoets in 1967 gesterf het. Ná die baadjie was die tweede duurste item op die veiling die opsomming van vlugplan van die Apollo 11-sending. Dit is vir 819 000 Amerikaanse dollar verkoop. Aldrin was die tweede mens op die maan en op 92, is hy die enigste oorlewende lid van die sending se drie-man-bemanning.