Brittanje gaan dalk die week sy rooilys van bestemmings aanpas

Die Verenigde Koninkryk gaan glo binnekort kwarantyn-vrye reise vir byna alle lande, insluitend Suid-Afrika, toelaat. Die huidige regulasies laat net Britse en Ierse burgers toe wat van hoë-risiko rooilys-lande af na Brittanje reis. Hulle moet in regeringsbestuurde hotelle onder kwarantyn bly. Britse media berig die Britse eerste minister, Boris Johnson, gaan na verwagting toestemming verleen dat ten volle ingeënte mense van lande insluitend Suid-Afrika, na die VK kan reis sonder om in afsondering te gaan. Die VK se rooilys van bestemmings kan dalk van 54 tot nege verminder word, met die aankondiging wat verwag word.