Brent ru-olie verloor Dinsdag 7%, en 13% in sewe dae

Brent ru-olie het Dinsdag 7 persent verloor en vir die eerste keer in ‘n geruime tyd tot net onder 100 Amerikaanse dollar per vat verhandel, waar die kommoditeit steeds staan. Die daling kom op vrese van ‘n Amerikaanse resessie. Brent het met amper 13 persent in die afgelope week teruggesak. Intussen verwag Opul dat die wêreldvraag na olie in 2023 sal styg, maar teen ‘n stadiger tempo as wat vanjaar aangeteken is. Opul het sy eerste voorspelling vir volgende jaar bekend gestel en sê ekonomiese groei en vordering met die bekamping van Covid in China sal bydra na die toenemende vraag. Die groep olieprodusente sê vraag sal met 2,7 miljoen vate per dag styg en die groei groeivoorspelling vir vanjaar is onveranderd op 3,36 miljoen vate daagliks gelaat. Volgens Opul sal daar gesonde wêreldwye ekonomiese groei voorkom en ‘n verbetering in geopolitieke spanning. Sou die voorspelling deur die organisasie reg wees, kan verbruikers ‘n redelike normalisering in die olieprys sowel as in voedselpryse verwag.