Brasiliaanse hoofstad se goewerneur geskors

Brasilië se President Luiz Inácio Lula da Silva het onderneem dat ondersteuners van die land se oudpresident wat die kongres bestorm het, gestraf sal word. Ondersteuners van Jair Bolsonaro het Sondag die kongresgebou, die land se hoogste hof en die presidensiële paleis in die hoofstad, Brasilia bestorm en geplunder. Die ondersteuners weier om te aanvaar dat Bolsonaro die verkiesing in Oktober verlede jaar verloor het. Die polisie het na ure weer beheer oor die geboue terug geneem. Lula da Silva het die geboue besoek om die omvang van die skade te bepaal. Volgens die polisie is 300 mense in verband met die geweld in hegtenis geneem. Die stad se goewerneur, Ibaneis Rocha, is intussen vir 90 dae geskors omdat hy versuim het om die onluste te verhoed. Verskeie groepe beplan pro-demokrasie saamtrekke regoor Brasilië in reaksie op die gebeure.