Brandstofsmokkelary loop steeds oop

Die Namibiese polisie het op Olunkono naby Ondangwa op ‘n bergingsfasiliteit afgekom waar ongeveer 385 liter onwettige brandstof in 15, 25-liter houers gevind is. Die mag beraam die waarde van die brandstof op net meer as 7 900 Namibiese dollar. Volgens die weeklikse misdaadverslag is ‘n wit Toyota Yaris geskut teen die Angolese grens omdat daar vermoed is die voertuig het die brandstof ingesmokkel. Die polisie sê twee verdagtes het die vlug ingeslaan maar die twee is bekend aan die beamptes en sal binnekort in hegtenis geneem word. Owerhede het toenemende uitdagings met die smokkelary van brandstof uit Angola waar dit uiters goedkoop is eenvoudig omdat die buurland se regering brandstof subsidieer.