Brand eis tien sinkhuise in Mondesa

‘n Brand het tien sinkhuise in Inawastraat in die Oletweni-buurt in Mondesa op Swakopmund vernietig. Volgens die Namibiese polisie is al tien sinkhuise met hul inhoud tot op die grond afgebrand. Brandbestryders van die munisipaliteit het die vlamme onder bedwang gekry sodat dit nie verder versprei nie. Niemand is in die brand dood nie, maar ‘n 24-jarige man het sy linkerbeen beseer toe hy van ‘n dak afgeval het terwyl hy die brand probeer blus het. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en die ondersoek duur voort.