Boks: Nestor betaal nie promotors nie, hulle sit vas in Namibië

Boksbeamptes van Suid-Afrika, Ghana, Nigerië en Zimbabwe is sedert einde Oktober in Namibië gestrand nadat die bokspromotor en stigter van die Nestor Sunshine Tobias Boxing and Fitness Academy versuim het om hul te betaal. Die akademie het op 29 Oktober sy ‘Together as One’ boksbonanza by Ramatex in die hoofstad aangebied. Van die amptenare sê hulle visums gaan verval terwyl ander hul skok uitgespreek het omdat Nestor Tobias ‘n veteraan van die bedryf is. Ander sê weer Tobias moet eerlik wees en ophou lieg. Tobias het aan nuusagentskappe bevestig dat hy op sy beurt vertragings gehad het in betalings wat aan hom gemaak moes word maar sê die geld is oorbetaal, wat betwis word deur die amptenare.