Bosasa se Angelo Agrizzi geskik vir korrupsie-verhoor

Die korrupsiebeskuldigde voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi, is geskik om tereg te staan, nadat hy ‘n psigiatriese evaluasie in die Weskoppies-hospitaal in Gauteng ondergaan het. Psigiaters het egter aanbeveel die Hooggeregshof in Pretoria moet korter sessies of meer gereelde pouses oorweeg weens Agrizzi se pyn en uitputting. Hy het ‘n hartaanval gekry kort ná sy inhegtenisneming in Oktober 2020. Een van die aanklagte teen Agrizzi is oor vier tenders ter waarde van 1,8-miljard Suid-Afrikaanse rand wat hy op ‘n korrupte wyse van Korrektiewe Dienste bekom het. Die saak is tot April uitgestel.