Bosasa-hofsaak tot 28 Oktober uitgestel

Die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria het die Bosasa-hofsaak tot 28 Oktober uitgestel. Die saak gaan oor beweerde bedrog en korrupsie van sowat 1,8 miljard rand. Die uitstel is toegestaan sodat die gewese kommissaris van korrektiewe diense, Linda Mti, die dossier kan bestudeer. Woorvoerder van die NVG se ondersoekdirektoraat, Sindisiwe Seboka, sê die departement se vorige hoof van finansies, Patrick Gillingham, Bosasa se voormalige hoof van finansies, Andries van Tonder, en die vorige bedryfshoof, Angelo Agrizzi, is mede-beskuldigdes.