BongBong wen geskiedkundige verkiesing

Ferdinand Marcos Junior het ‘n weghol-oorwinning in die Filippynse presidentsverkiesing behaal. Hy is die seun van ‘n voormalige diktator. Volgens internasionale media is meer as 90 persent stemme reeds getel en Marcos het byna 30 miljoen stemme op hom verenig. Dit is meer as twee keer soveel as sy naaste teenstander, die huidige visepresident, Leni Robredo. Marcos sê hy gaan niks vier voordat al die stemme getel is nie. Hy sal op die 30ste van volgende maand met sy enkele ampstermyn van ses jaar begin. Sy pa, Ferdinand Marcos Senior se regering is in 1986 omvergewerp en hy is in bannelingskap geplaas, as gevolg van wyd verspreide korrupsie en die verduistering van staatsgeld.