BoN pas groeivooruitsigte afwaarts aan

Die Bank van Namibië het die land se groeivooruitsigte vir 2022 en 2023 tot onderskeidelik 3,2 persent en 2,9 persent afwaarts aangepas. Daar was 3,7 persent vir volgende jaar voorspel. Volgens die bank is die hersiening grootliks gebaseer op die voortslepende oorlog tussen Rusland en die Oekraïne en die gepaardgaande ekonomiese sanksies teen Rusland. Die oorlog het gelei tot voorsieningstekorte van verskeie verbruikersprodukte sowel as ‘n paar belangrike produksie-insette, wat bygedra het tot hoë inflasie regoor die wêreld. Die meeste sentrale banke het op verhoogde inflasie gereageer deur beleidsrentekoerse teen vinniger koerse te verhoog as wat aanvanklik verwag is, wat die kans op ‘n wêreldwye resessie vanaf 2023 verhoog.