Boksburg: Dodetal styg tot 26, tenkwa-bestuurder nie vervolg

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het bevestig die aantal mense wat dood is na Oukersdag se tenkwa-ontploffing in Boksburg het tot 26 gestyg. Hy sê vier mense wat aanvanklik as vermis aangemeld is, kom van Malawi. Daar is nou bepaal dat hulle ook dood is en die provinsiale regering sal help om die liggame na Malawi te stuur. Intussen is die bestuurder van die gastenkwa uit aanhouding vrygelaat aangesien die Nasionale Vervolgingsgesag besluit het om hom nie in hierdie stadium te vervolg nie. Volgens die Gautengse polisie is daar onvoldoende bewyse teen die 32-jarige man. Lesufi sê die bestuurder kan steeds aangekla word.