Boere kry dalk verligting in produksiekoste 

Wêreldwyd het kunsmispryse met 20,4 persent gedaal sedert die hoogtepunt in April 2022, volgens Simonis Storm se landbouverslag van Oktober. Baie Europese kunsmis-aanlegte is die afgelope jaar gedwing om produksie te sluit of te beperk, aangesien die energiekrisis gasvoorrade waaruit stikstof-voedingstowwe afkomstig is, onderdruk het. Dit het die beskikbaarheid van kunsmis verminder en pryse regoor die wêreld verhoog. Stygende kunsmispryse het ook produksiekoste plaaslik verhoog, aangesien Namibië ‘n netto invoerder van kunsmis-produkte is. Tekens van prysverligting en ‘n versterkende Suid-Afrikaanse rand teenoor die Amerikaanse dollar, kan egter beteken dat Namibiese boere ‘n effense verligting in produksiekoste sien. Dieselpryse bly egter hoog en prysstygings word verwag as gevolg van wêreldwye tekorte aan diesel.