Biden sê Russe beplan kuberaanval

Die Amerikaanse President Joe Biden het sy waarskuwing herhaal dat Rusland moontlik kuber-operasies teen Amerika beplan in reaksie op die ongekende ekonomiese sanksies van dié land en sy bondgenote teen Moskou. Hy sê dis gegrond op ontwikkelende intelligensie dat die Russiese regering moontlikhede vir kuberaanvalle ondersoek. Biden sê sy administrasie sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om kuberaanvalle teen noodsaaklike infrastruktuur te voorkom, te onderbreek en indien nodig daarop te reageer. Hy sê hulle is bereid om maatskappye in die privaat sektor met gereedskap en kennis in die verband by te staan.