Biden geskok oor aborsie-wetgewing in Texas

Die Amerikaanse president, Joe Biden, sê die nuwe wet in Texas wat aborsies verbied, gaan ‘n aansienlike negatiewe uitwerking op mense se toegang tot gesondheidsorg hê. Volgens berigte verbied die sogenaamde Heartbeat-wet, wat in Mei deur die goewerneur van die staat Greg Abbott goedgekeur is, aborsies na ses weke swangerskap. Daar word ook nie voorsiening gemaak vir uitsonderings soos bloedskande en verkragting nie. Enige persoon wat aborsies uitvoer en die wet oortree, kan gedagvaar word. Biden sê hy het hom sterk verbind tot die grondwetlike reg wat ingevolge Roe teen Wade geskep is, en hy sal dié reg beskerm en verdedig. Die woordvoerder van die Withuis Jen Psaki het met die media gepraat.