Betogings in suidooste van Peru eis lewens

Minstens 17 mense is dood en tientalle is beseer in gevegte tussen teen-regeringsbetogers en veiligheidsmagte in Juliaca in die suidooste van Peru. Die botsings word beskryf as een van die ergste voorvalle van geweld sedert die oudpresident Pedro Castillo verlede maand in hegtenis geneem is toe hy die kongres wou ontbind. Sy ondersteuners het die afgelope weke in die strate betoog en paaie versper. Eerste minister Alberto Otárola het die veiligheidsmagte se optrede deur op betogers te skiet, verdedig. Hy sê gewelddadige groepe word befonds deur mense met buitelandse belange en dwelmbase wat Peru wil vernietig. Die totale dodetal in die onrus staan tot dusver op meer as 40.