Betogings in Australië teen Covid-inperkings

Meer as 250 mense is in Australië in hegtenis geneem weens betogings teen koronavirus-inperkings. Minstens sewe polisiebeamptes is beseer toe skermutselings by sommige van die betogings in verskeie stede landwyd uitgebreek het. Die grootste en gewelddadigste betoging was in Melbourne. Inperkingsmaatreëls is al twee maande in Sydney van krag terwyl Melbourne en die hoofstad Canberra vroeër die maand inperkingsregulasies ingestel het. Ondanks die maatreëls het die staat Nieu-Suid-Wallis gister ‘n rekordgetal van 825 nuwe besmettings aangemeld.