Bekende Iranse aktrise in hegtenis geneem

Iranse owerhede het een van die land se bekendste aktrises in hegtenis geneem op aanklag van die verspreiding van valshede oor betogings landwyd. Staatsmedia het berig Taraneh Olidoosti, ster van die Oscar-bekroonde rolprent The Salesman, is tronk toe gestuur ‘n week nadat sy op Instagram solidariteit betoon het met die eerste betoger, die 23-jarige Mohsen Shekari,  wat onlangs tereggestel is. Landwye betogings teen die Iranse regering spruit uit die 22-jarige Mahsa Amini se dood op 16 September in polisie-aanhouding. Die moraliteitspolisie het haar in hegtenis geneem omdat sy haar hidjab verkeerd gedra het.